Leestafel heeft toestemming van Uitgewer / Publisher Human & Rousseau Fiksie / Fiction An imprint of NB Publishers (www.nb.co.za) én Wilma Stockenström om onderstaande gedichten in het Zuid-Afrikaans te plaatsen.
Die verskrikking
Kinders, vasgewaaid, soos lappe, teen die draad;
sodat toeriste op die grootpad omkyk en sê:
kenmerkend, kenmerkend van Afrika.
Slagtersnek wordt Sharpeville; Sharpvilles
Slagtersnekke, in baniersopskrifte. Ja, waarlik,
die koerantstapels op die vloere van kafees
verkoop vinniger as vars brood
als van vars bloed die sprake is.
Met die doelgerigtheid van die roofvoël,
soekend, kom hy aangevlieg
om die soetemalingbruide van sjiffon
te ontswagtel; wat met een klein kreet
die inhaligheid van die heupe voor die kameras
ontbloot om voorblaaie vol in beslag te neem,
in kleur, en simptomaties onsensueel.
Miljarde insekte in stormwaterslote blyk
die nog spartelende liggame van oumense te wees
wat die stadsraad verzuim het te verwyder.
Nou jaag vulliswaens met sirenes op die snelweë.
Nou staan die sinjale soos galge langs die spoor.
Nou, word verklarings uitgereik deur hoë amptenare,
en,
in 'n vallei, die vrugbaarheid
versteen tot verlatenheid, stal
die verskrikking sy vlerke uit,
manjifiek, triomfantlik.
© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende lezer
Human & Rousseau 1970
My kop het die witbaadjies met elektrodes gespek.
Ek het drade vir hare en nou vermoed ek
ek lyk 'n spektakel, 'n regte Antjie Somers.
Met die aap in die ruimtetuig voel ek my
solidêr, met alle ape voel ek my solidêr.
Ek stig 'n vakbond met die aap in die tuig,
weier om te eet, of om water te drink.
Vir voedsel wat hul aandra, programmaties,
skud ek swaar en swaarmoedig my bedrade kop
en byt my smal, blou naels op die wortel;
Aapsalig lê ek op my sterfbed en grinnik,
my rubberhare sissend om my skedel,
soos 'n wafferse Medusa, maar buite die mite
en magteloos buitendien op die hoë tafel,
omring deur gemaskerde manne van die tegnologie.
© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende lezer
Human & Rousseau, 1970
Eendag toe hou die skepper
sy skepping soos 'n kind 'n skoelapper
op sy hand, en bibberend
spalt die gebrandskilderde vlerke.
Magtig die kleure wat gloei soos godhede
gloei, oop, toe, met groot
vertoon, die vlerke vir dag en nag.
Die skepper voel nog die pootjies
fyntjies op sy vingers en wonder
oor wat hy vermag het: oopvou
van 'n al, goudstofoortrekte lig,
en soos skeppendes maar is, bedink
hy, trots en nederig, nog ene,
nog 'n lieflike ligsinnige vlinder,
herhaaldelik, die ewigheid ter wille.
© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende lezer
Human en Rousseau, 1970
Die loeries
© Wilma Stockenström
Die loeries van die stad
wip
trappe-af trappe-op
parfuum onder die vlerke
en poseer
pootjie geknak
teen die wit teëls van die manstoilet.
Om pragtig met pragtig te paar
is kuns om die kuns
in 'n land so droog soos ons s'n.
Uit: Vir die bysiende lezer
Human & Rousseau, 1970
Uit donker geglip na goddelikheid
ewe vlug van luister ontdaan,
wil ek wip-wip kleur beken.
In die glansspreeuverskuiwing
van glans na vergetelheid
verloor ek behae aan hopeloos
ek-spreeu sus, spreeu so- ek wees.
Altyd bly vlieg van die tak
om jou oulikheid op te vysel
boek-boek by sandale en vellies,
spreeu sus, spreeu so te bly
van vergetelheid, glans; nooit
ophou hunker na einddeurlewing
tot blou en groen en veergeworde vlam.
In my glansspreeubekentenis
wip ik van waarheid verlig
na duister skadu en ondeug,
tintel ek uitspattig van veer,
lastig en eentonig van taal
en bekla en beken en bly ek
voël van glans en van vergetelheid
© Wilma Stockenström
Uit: Van vergetelheid en van glans.
Human & Rousseau 1976
spreeu = spreeuw
na = naar
ek = ik
behae = behagen
vellies = mocassins
einddeurlewing = voleinding
bly = blijf
voël = vogel
Paleontologie
Per motor oor die ribbetjiemaer veld is jy naby.
Nader nog te voet, skoensole links regs op skalie,
aan 'n verleden waarmee jij meen jy het niks gemeen,
was dit niet dat jy lewe is en dit lewe was:
geschubde kloue hot haar op turf, deur stoom,
en hier en plek-plek die groen van gewasse,
waaierend krullend spoordraend wasagtig.
Dié plek, nou winddroog, nou brandend groot,
suisend van stilte, sodat jou stem klip word,
ontvang jou skrede van skoeisel, jou
beslaande afdruk, tweevoetig, jou kykstaan
net soos 'n meerkat oor wat op sy uiteinde
verklaar tot lug, ontvang jou omvattende kennis,
jou bukkende gegrou na sy verkliptheid
onder die dor en die ghaap*, jou kundige sif,
jou rekonstruksie en monteer met draad en klamp
van been by been van nog en van nog
geskubdes, gepantserdes, ontvang die operasie,
duld die droë keizersnee asof dit donga is.
Duld jou verrukking. Want diep en verdraagsaam
die sterfbedding en lydsaam aardse ontvangenis
en niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens.
© Wilma Stockenström
Uit: Van vergetelheid en van glans
Human & Rousseau 1976:
*Ghaap= soort vetplant met onwelriekende bloemen.
Pagina 1 van 2