Die skedel lag al huil die gesig


Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook 'n glaskas in 'n museum sal haal?
'n Seldsame dier is die mens nou nie juis.

Tog, hoe slim tog is ons met ons
innerlike uurwerkvernuf, hoe sterk
die groot swaaiende hyskraangebare
waarmee ons wolkekrabbers reghoekig
neerplak in woon- en sakekomplekse.
Merkwaardig ons grabbelende navorsing
dwarsdeur dolomiet om ons arms diep
soos skagte te sink en die grys erts
te gryp en op te trek, te vergruis en te
veredel tot staaf op staaf korfagtig
gepakte kluise van belegging. A ja,
wonderbaarlik ons vermoë om weggooisand
tot vuurstof te verryk wat as ons wou
alles onherhaalbaar in allerlaaste oplaaiing
woes en skoon kan laat ontbrand.

Ek sê mos die skedel lag
al huil en huil die gesig.

© Wilma Stockenström
Uit: Van Vergetelheid en van glans
Human & Rousseau 1976