Voor haar siel weet sy die baai van drie berge...


Voor haar siel weet sy die baai van drie berge
sien haar weer, diensmeisie van die oop see.
Sy onderwerp haar, met krakende gewrigte
vasgemeer, aan die wydsbeenhyskraan se vólmaak
van haar buik, die stewe gapend groot
oop vir die instop van vrag wat haar diep
laat dryf, en loom laat sy haar sleep
uit na die storms, onderweg na land
op land, selfgenoegsaam, totdat die hawe
waar die leeu wag hou, haar weer gewaar
en sy stoom die baai binne, en stadig
kom die verkeer in rat. Wie belet
ooit die sege van die onopgesmukte skip
wat onversadig op die halfronde se stede
vaar om met 'n droë bevalling aan te doen,
sy sonder wie beskawings sou verskrompel?
Welkom is die vaartuig van die seer gerieflike
ontvangenis, sonder voorbehoud, in die vieslike,
besoedelde, weliswaar, waters van die ekonomie.
Die knoppies is gedruk, die dolosse gegooi.

© Wilma Stockenström
Uit: Aan die Kaap geskryf
Human & Rousseau 1994