Die eland


Dat die klein-klein handjie se aanraak
die eland laat opspring en rooi en vaal draf
dit is die wonder wat hom voltrek in die grot
geel vinger rooi klei dit is die wonder
die eland lewend geraak op die wand van klip
die groot geel mensie en die klein bruin eland

die groot oker dier staan op uit die stof
en bekyk die lewe gelate geverf
uit die bek van die grot by die bak ghwarriebos

menseskepsel loop uit uit die bakkrans
uit na die vaal trop doer teen die vlak
om die wind te skep en die kort pyl te skiet

om die bok te skep met die horings swart
en die buik so vaalrooiskurf teen die vaalplatklip
en die sterk pote en die stomp stert en die riffelkwakkie

dit is die wonder wat hom voltrek as die pyl
in die hand wat hand bly kwas word
hand wat die klip laat leef

hand wat laat leef lewende hand
doop in slang en gifbol se gif die pyl
en span die boog breed soos die horison
na die teiken geteken teen die groot-groot lug.

© Wilma Stockenström
uit: Van vergetelheid en glans
Human & Rousseau 1976