Poëzie-Leestafel Poëzie-Leestafel
  • Poëzie
    • Overzicht A-B-C-D
    • Overzicht E-F-G-H
    • Overzicht I-J-K
    • Overzicht L-M-N
    • Overzicht O-P-Q-R-S
    • Overzicht T-U-V
    • Overzicht W-X-Y-Z
    • Thema's
  • Gedicht uitgelicht
  • Biografieën
  • Recensies bundels
  • Poëzie schrijven
  • Linken
  • Forum
  • Zoeken
  1. U bevindt zich hier:  
  2. Startpagina
  3. Wilma Stockenström

Wilma Stockenström

Voor haar siel weet sy die baai van drie berge...


Voor haar siel weet sy die baai van drie berge
sien haar weer, diensmeisie van die oop see.
Sy onderwerp haar, met krakende gewrigte
vasgemeer, aan die wydsbeenhyskraan se vólmaak
van haar buik, die stewe gapend groot
oop vir die instop van vrag wat haar diep
laat dryf, en loom laat sy haar sleep
uit na die storms, onderweg na land
op land, selfgenoegsaam, totdat die hawe
waar die leeu wag hou, haar weer gewaar
en sy stoom die baai binne, en stadig
kom die verkeer in rat. Wie belet
ooit die sege van die onopgesmukte skip
wat onversadig op die halfronde se stede
vaar om met 'n droë bevalling aan te doen,
sy sonder wie beskawings sou verskrompel?
Welkom is die vaartuig van die seer gerieflike
ontvangenis, sonder voorbehoud, in die vieslike,
besoedelde, weliswaar, waters van die ekonomie.
Die knoppies is gedruk, die dolosse gegooi.

© Wilma Stockenström
Uit: Aan die Kaap geskryf
Human & Rousseau 1994

 


Die eland


Dat die klein-klein handjie se aanraak
die eland laat opspring en rooi en vaal draf
dit is die wonder wat hom voltrek in die grot
geel vinger rooi klei dit is die wonder
die eland lewend geraak op die wand van klip
die groot geel mensie en die klein bruin eland

die groot oker dier staan op uit die stof
en bekyk die lewe gelate geverf
uit die bek van die grot by die bak ghwarriebos

menseskepsel loop uit uit die bakkrans
uit na die vaal trop doer teen die vlak
om die wind te skep en die kort pyl te skiet

om die bok te skep met die horings swart
en die buik so vaalrooiskurf teen die vaalplatklip
en die sterk pote en die stomp stert en die riffelkwakkie

dit is die wonder wat hom voltrek as die pyl
in die hand wat hand bly kwas word
hand wat die klip laat leef

hand wat laat leef lewende hand
doop in slang en gifbol se gif die pyl
en span die boog breed soos die horison
na die teiken geteken teen die groot-groot lug.

© Wilma Stockenström
uit: Van vergetelheid en glans
Human & Rousseau 1976

Die skedel lag al huil die gesig


Eendag sal ek, weet ek, die dood
met laggende skedel trotseer. Minstens
my sin vir humor sal ek behou. Maar
of ek soos oorlee mevrou Ples en soos
die bloubok van my geboorteland
ook 'n glaskas in 'n museum sal haal?
'n Seldsame dier is die mens nou nie juis.

Tog, hoe slim tog is ons met ons
innerlike uurwerkvernuf, hoe sterk
die groot swaaiende hyskraangebare
waarmee ons wolkekrabbers reghoekig
neerplak in woon- en sakekomplekse.
Merkwaardig ons grabbelende navorsing
dwarsdeur dolomiet om ons arms diep
soos skagte te sink en die grys erts
te gryp en op te trek, te vergruis en te
veredel tot staaf op staaf korfagtig
gepakte kluise van belegging. A ja,
wonderbaarlik ons vermoë om weggooisand
tot vuurstof te verryk wat as ons wou
alles onherhaalbaar in allerlaaste oplaaiing
woes en skoon kan laat ontbrand.

Ek sê mos die skedel lag
al huil en huil die gesig.

© Wilma Stockenström
Uit: Van Vergetelheid en van glans
Human & Rousseau 1976


Ecce homo


Wat het hom tog besiel om te wil
regopstaan, Kierts ! Tog nie net
dors na kennis, die bykom van 'n appel
bo-aan 'n baie groot, sugtende boom nie,
handeviervoet sou hij ook, op 'n lei,
kon leer lees en skryf het, later
die relatiwiteitsteorie vinger-in-die-sand
kon uitgewerk het, en uitgevee het
(want waarvoor) met minder rugkwale.
Handeviervoet kan jy godsdiens beoefen,
loer in 'n mikroskoop, klavier speel,
beelde boetseer, op jou rug rol om plafonne
te beskilder, weer omrol en van jou steiers
afklouter, fronsend , ingedachte, honger.
Handeviervoet is eet en drink speletjies,
paring vanselfsprekend, alles gaan.
Net toneel speel, lyk dit my, sou bedenklik
ingewikkeld, haas onmoontlik en regtig
lagwekkend wees. Regtig. 'n Kruipende
Faust. 'n Klutaimnestra met swengelende
borste. Nee! Drama wil hoog reik!
Daar staan hy nou met sy weekdele bloot,
die mens, die sot, die groot toneelspeler.

© Wilma Stockenström
uit Spieël van water.
Human & Rousseau 1973


Kierst = Kaarsrecht!
bykom = reiken
baie = grote
handeviervoet = op handen en voeten
alles gaan = alles kan
net = alleen
regtig = echt

Lees de reacties op het forum, klik HIER


  • 1
  • 2

Pagina 2 van 2

Copyright © 2004-2025 Poëzie leestafel  -  Alle rechten voorbehouden.
Niets van deze site mag ter publicatie worden overgenomen.
Indien nodig kunt u contact opnemen met de beheerder van Leestafel, e-mail: dettie@poezie-leestafel.info