My kop het die witbaadjies met elektrodes gespek.
Ek het drade vir hare en nou vermoed ek
ek lyk 'n spektakel, 'n regte Antjie Somers.
Met die aap in die ruimtetuig voel ek my
solidêr, met alle ape voel ek my solidêr.
Ek stig 'n vakbond met die aap in die tuig,
weier om te eet, of om water te drink.
Vir voedsel wat hul aandra, programmaties,
skud ek swaar en swaarmoedig my bedrade kop
en byt my smal, blou naels op die wortel;
Aapsalig lê ek op my sterfbed en grinnik,
my rubberhare sissend om my skedel,
soos 'n wafferse Medusa, maar buite die mite
en magteloos buitendien op die hoë tafel,
omring deur gemaskerde manne van die tegnologie.
© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende lezer
Human & Rousseau, 1970