Pretoria


Druk ek
die stofbereënde ruit
oop teen die lug se diep troupandblou
ontwar ek
tussen jakarandas se groen volstruisvere
vrouens
blij in die ander tyd
hul eerstelingpokkels in stootwaentjies
na die supermark en poskantoor stoot
so
loom tevrede
van meer wees as net self.

Slaap, my vet wit ruspetjie, slaap sag.
Die diender en die dominee hou oor jou die wag.
Daarbuite in die miershope wag die swart miertjies vir jou.
Lank, lank gelede was die miere ’n groot swart klad.
Nou woon hul wettig in hope reg rondom die stad.
Slaap rustig, mamma se ruspetjie, slaap sag.

© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende leser
Human & Rousseau 1970