Paleontologie


Per motor oor die ribbetjiemaer veld is jy naby.
Nader nog te voet, skoensole links regs op skalie,
aan 'n verleden waarmee jij meen jy het niks gemeen,
was dit niet dat jy lewe is en dit lewe was:
geschubde kloue hot haar op turf, deur stoom,
en hier en plek-plek die groen van gewasse,
waaierend krullend spoordraend wasagtig.
Dié plek, nou winddroog, nou brandend groot,
suisend van stilte, sodat jou stem klip word,
ontvang jou skrede van skoeisel, jou
beslaande afdruk, tweevoetig, jou kykstaan
net soos 'n meerkat oor wat op sy uiteinde
verklaar tot lug, ontvang jou omvattende kennis,
jou bukkende gegrou na sy verkliptheid
onder die dor en die ghaap*, jou kundige sif,
jou rekonstruksie en monteer met draad en klamp
van been by been van nog en van nog
geskubdes, gepantserdes, ontvang die operasie,
duld die droë keizersnee asof dit donga is.
Duld jou verrukking. Want diep en verdraagsaam
die sterfbedding en lydsaam aardse ontvangenis
en niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens.


© Wilma Stockenström
Uit: Van vergetelheid en van glans
Human & Rousseau 1976
:

*Ghaap= soort vetplant met onwelriekende bloemen.