Poëzie-Leestafel

...

  • Vergroot lettergrootte
  • Standaard lettergrootte
  • Verklein lettergrootte
Skeppend

 

Eendag toe hou die skepper
sy skepping soos 'n kind 'n skoelapper
op sy hand, en bibberend
spalt die gebrandskilderde vlerke.
Magtig die kleure wat gloei soos godhede

gloei, oop, toe, met groot
vertoon, die vlerke vir dag en nag.
Die skepper voel nog die pootjies
fyntjies op sy vingers en wonder
oor wat hy vermag het: oopvou

van 'n al, goudstofoortrekte lig,
en soos skeppendes maar is, bedink
hy, trots en nederig, nog ene,
nog 'n lieflike ligsinnige vlinder,
herhaaldelik, die ewigheid ter wille.

© Wilma Stockenström
Uit: Vir die bysiende lezer
Human en Rousseau, 1970